Ons storie het in 2013 begin, toe ons nog kinders op laerskool was, sonder om te weet dat God reeds besig was om twee harte vir mekaar voor te berei. Wat as ’n vriendskap begin het, het in stilte wortel geskiet en met die jare gegroei tot ’n verbintenis wat geen afstand of tyd kon breek nie.

Na n tydelike afskeid toe ons hoërskoolpaaie verskillend geloop het, was dit tog nie die einde van ons storie nie, maar deel van God se groter plan. Op Sy perfekte tyd het Hy ons paaie weer na mekaar teruggelei.

In 2019 het ons onverwags weer begin praat, en dit het gevoel asof geen tyd verbygegaan het nie. Die band was steeds daar — net sterker, dieper en voller betekenis. Kort daarna het ons reis as ’n paartjie begin. Vir byna drie jaar was ons in ’n langafstandverhouding, waar geloof, geduld en liefde die afstand oorbrug het. In 2023 kon ons uiteindelik fisies saam wees.

Met elke jaar het ons liefde gegroei. Deur God se genade het ons geleer om mekaar te vertrou, te verstaan en saam te groei — nie meer net as twee individue nie, maar as een.

Op 26 April 2025 het ons ons eerste belofte aan mekaar gemaak. Op 17 Oktober 2026 sal ons daardie belofte voor God, ons familie en vriende bevestig, met dankbare harte en opgewonde verwagting vir die lewe wat ons saam gaan deel as man en vrou.